Woensdag 27 Januarie 2016

Ewige letsel

Semi-pessimistiese realis... Dit sal wees hoe ek myself beskryf. Wel, die meeste van die tyd sal ek binne hierdie "beskermende" grens dwaal met die hoop dat alles en almal anders my in vrede sal laat.  
Met hierdie tipe leefwyse in gedagte, is daar dikwels, baie dikwels, gebeure en situasies wat my grensmure skud.  Ek wonder of mens nie maar net te sensitief vir die lewe is nie.  Hoekom kan relevante of selfs irrelevante besluite van ander...'n mens so affekteer.  Die meeste van die tyd is dit immers die besluite en, of optrede van ander mense, wat my ontstel.  Ek glo en vertrou dat ek nie die enigste persoon is wat so aan die lewe dink nie.

Hoe besluit mens om na 26 jaar 'n huwelik te beëindig?  Hoekom na 26 jaar?  Hoe kon jy vir 26 jaar in 'n huwelik "vasgevang" wees?  Vasgevang...hoe is mens vasgevang as jy met jou sielsgenoot getrou het?  Hoe gaan jy na so 'n lang tyd, voort met 'n lewe wat jy wens jy kon gehad het?

Ek het te veel vrae en duidelik te min antwoorde.  

Dan wonder ek of ek nie die selfsugtige een is nie.  As my ouers na 26 jaar van leuens, besluit om 'n lewe te lei waar daar geen meer toneel gespeel word nie, is dit mos tot hul voordeel...mos...daai vieslike woord wat geen afrikaanse onderwyser 'n verduideliking voor het nie en wat geen rede vir gebruik toon nie.  Soos die woord "omrede".  Omrede ons na jare net uitmekaar gedryf het...omrede ons mekaar vir so lank net te sleg behandel het...omrede ek nie met my sielsgenoot getrou het nie...omrede jou ouma en oupa verwag het dat ons sou trou...omrede ek bang was dat ek nooit iemand anders sou kry nie...omrede ons na 26 jaar besef het dat ons nooit regtig vir mekaar lief was nie...omrede.

Wat ookal die rede, vergifnis.  Vergifnis.  Vergifnis.  Wie?  Waarvoor?  Vir 26 jaar se leuens?  26 jaar van voorgee...26 jaar van swak voorgee!  Is hulle so dom om te kon dink dat ons kinders nie ooit geweet of vermoed het dat die liefde tussen hulle lankal by die drempel uit is nie?  

Dalk is ek ontsteld omdat dit my grief dat mense jou intelligensie op 'n daaglikse basis bevraagteken en op die proef stel.  Magtig, hoe dom kan een persoon nou lyk?  Maar duidelik is die impak van so 'n egskeiding, irrelevant as die kinders al 33 jaar oud is.  Hulle kan mos...na hulself omsien en het hopelik die regte keuses in hul lewe gemaak sodat hulle nooit op 'n punt sal kom en drastiese stappe soos die van hul ouers, sal neem nie.  "Ja, die kinders is mooi groot en die impak van hierdie egskeiding sal aansienlik minder wees as wat dit sou wees toe hulle klein was." (Die oormatige gebruik van die ellips borrel 'n soort satiriese vreugde in my binneste) ... ja, immers...

Verskoon my vir so 'n oomblik terwyl ek in my intro-skelet skud en die gal in my mond rondspoel. Natuurlik weet ek waar al die antwoorde is en waar ek vrede vir my siel gaan kry, maar ... maar is nie eintlik wat moet volg nie ... maar miskien wil ek vir 'n enkele oomblik die bitterheid van die lewe en die siek samelewing 'n klop op die skouer gee.  Wel gedaan met 'n finominale oorwinning, Lewe! Mooi so, goed gedoen!  Dit moet vreeslike inspanning en tyd...tyd vat om so 'n misvormde uitkoms van 'n 30 jaar plus huwelik in jare af te breek.  Sjoe, die ywer en uithou wat hiermee gepaard moes gaan.  Ditsem!  

Verskoon my weerneens terwyl ek die totale afguns en walg van die mens net vinnig sluk.  Die selfsugtige, egosentriese monargie wat elkeen se persoonlike spasiemeester geword het.  Mag ons onsself asseblief nie verontrief deur iemand anders vir 'n oomblik in gedagte te hou of hul gevoelens in ag te neem nie.  Nee wat, kom ons donder die hele spul in hulle moere in.  Kom ons dink net aan onsself en tree daarvolgens op.  Dalk was dit juis hierdie 26 jaar van almal in ag neem wat hierdie drastiese "breek" vereis het.  Vir die eerste keer in 26 jaar neem die eie ek, die ware ek oor en doen wat lankal op die planke gebring moes word.  Gaan dus voort.

Seer, pyn en wantrou is iets wat mens mee saamleef en dan eendag vergeet jy daarvan.  Jy vergeet van mense en hul dinge en hoekom jy hulle in die eerste plek moes vergeet het.  Jy vergeet van al die kastige "goeie goed" wat daar kwansuis ook was en dan bly net die bitter oor.  Daai skerp galstreep aan die agterkant van jou keel as alles uit is!

Ek het my nog nooit voorgeneem dat my ewigheidsdenke net die goeie en mooi dinge sal inhou nie, want hoe vorm jy as mens as jy nie die lewe se seermaak iewers moes voel nie.  Dalk lees ek hierdie pos oor 'n paar maande, jare van nou af en lag vir my bitterheid.  Dalk lag ek wanneer ek besef dat dit nie so erg is as wat my hart nou vir my sê nie.  Dalk is dit nodig om so nou en dan 'n inskywing te hê waar jy net alles slegsê.  Juis sodat jou hart kan genees en 26 jaar se leuens iewers lêplek kan kry.

As ek kwaad is, is dit omdat hulle hulself nooit geluk gegun het nie.  Omdat hulle dit aan hulself gedoen het.  Omdat hulle mekaar verniel het, mense gebreek het in plaas daarvan om te vorm en te bou.  Na 26 jaar is hulle nie die helfde van die mense wat hulle was en nie 'n druppel van die mense wat hulle kon gewees het nie. Dink net hoe baie hulle kon vermag het as hulle mekaar kon help om hul volle potensiaal as lewensmaat te bereik.  

Die lewe is net te kort, net te moer kort om dit saam met iemand te spandeer wat nie jou ander helfte is nie...

Maandag 25 Maart 2013

Ewige verwondering


Ek is 'n ma...

 

Ek is 'n ma...

 

Ek is 'n ma, en hoe meer ek dit vir myself sê, hoe minder klink dit na 'n werklikheid.

 

Maar ek is 'n ma, en dit is een van die beste gevoelens in die wêreld.

 

Ek besef toe nou eers onlangs, hoe bitter baie liefde 'n ouer vir hul kind behoort te hê. In die meeste huishoudings hoop ek dat dit die geval sal wees, dat 'n ouer onvoorwaardelike liefde ervaar wanneer hulle daardie kleine lyfie in hul arms vashou.

 

Eers onlangs besef ek die liefde wat my eie ouers vir ons drie kinders moet hê. Ek het skielik 'n nuwe siening teenoor die wyse waarop my ouers ons grootgemaak het. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het in my universiteitsjare al besef dat my ouers die boustene van my menswees is en dat ek hulle oneindig baie verskuldig is, maar meer onlangs het ek 'n brand in my hart ontdek wat deur 'n kleine kindjie gevuur is.

 

Soveel mammas kan hul liefde vir hul kinders verwoord. Ek wil probeer... maar dit gaan nie maklik (moontlik?) wees nie.

 

Ek was een van daardie meisies wat nooit kinders wou hê nie. Ek reken die vrese wat my destyds slapelose nagte besorg het, word tans in my agterkop onderdruk en oor jare van nou, sal ek weer daardie vrese opsoek, maar vir nou wil ek myself oorgee aan die brandgevoel in my bors elke keer as ek daardie kleine lyfie in my arms vashou.

 

Hoe kan enige iemand twyfel in die bestaan van God as hulle 'n pasgebore baba in hul arms vashou. 'n Klein mensie, so perfek. My hart bloei vir soveel mammas wat ongesonde babas in die lewe bring. My hart kry seer vir soveel mammas wat hul kleingoed se stilslaap moet probeer verwerk, en daar is só baie van hulle wat met daardie hartseer moet saamleef.  My hart staan stil vir vrouens wat verlang na ‘n kind, en net nie kan baar nie.  My hart is platgetrap deur ouers wat hul kinders mishandel, weggee, vermoor.  Tóg is my hart dankbaar vir elke liewe sekonde wat ek ‘n mamma kan wees.

 

Die liefde wat ek en my man vir mekaar het, is vasgevang in my seuntjie se oë.  Die gelukkige tye wat ons saam deel, is in sy glimlag.  Die toekomsverwagtinge wat ons beide vir ons gesin koester, is in sy stewige greep vasgevang.  Ons persoonlike triomf en lewe-oomblikke, word geskater elke keer wanneer sy giggel die lug invaar.

 

Geen kamera is gevorderd genoeg om my onlangse emosies vas te vang nie.  Geen video-opname sal die blydskap in my hart kan regverdig nie.  Geen geskrewe word, of verbale uitdrukking sal die brand in my bors kan verduidelik nie. 

 

En dan is daar soveel mense wie ek wens hy kon ken.  Soveel mense wie hy net te laat gaan leer ken.  Soveel mense wie net te ver is om deel van sy lewe te wees.  Soveel mense wat ons lankal in gees bedien, maar wie hy nooit gaan aanvoel nie.  Daar is soveel mense wat oorbly om hom groot te maak.  Soveel mense wat in sy lewe kan inbou en sy vorm kan beïnvloed. 

 

Al wat ek as Ma kan doen, is om my kind aan God op te dra.  Al wat ek kan doen, is om hom aan God te offer en dankbaar te wees vir die geskenk wat ek mag grootmaak.

 

Sjoe, dis lekker om ‘n Ma te wees!  

 

(Die geskryf regverdig nie die bloed in hierdie woorde nie…)

 

Brendin Niel du Plessis

Gebore:  19 November 2012

Ewige kindwees


Ek wou net nóg hoër klim, hoër as my broer, maar hy was nie meer lus vir die speletjie nie. Daar sit ek toe, alléén, vingeralleen in die groot boom voor die huis. Ouma was in die kombuis besig om te bak-en-brou. Die straat was leeg, of só het ek gedink. Dit was een van die min kere waar ek letterlik my wind uitgeval het. Toe ek my oë oopmaak, buk 'n ou dame oor my en vra of ek seergekry het. Wel, ek neem aan dat dit haar woorde was, want die taal wat sy gepraat het, was onbekend. Sy het my tot by die voorhek gehelp en gebukkend het ek die rylaan afgemompel. By die agterdeur staan ek toe regop en loop by die kombuisdeur in asof niks verkeerd is nie. My suster het behoorlik gegiggel toe ek die storie jare later vir haar vertel.

Dis nie al herinneringe wat ek koester nie.  Van die helderste tye in my lewe, het in Nigel se huis afgespeel. 'n Huis propvol vreugde, glimlag en trane.

In daai huis kon my ma ons enige plek opspoor en die wegkruipplekke was oneindig! Die gekraak van die houvloer het ons elke keer weggegee. My oom se kamer was verbode terrein, want in sy kas het 'n vreeslike gedrog gebly.

Dit was die dae toe my ma en pa nog gelag en gespeel het, die dae toe hulle nog met opgewondenheid na mekaar geloer het. Snags was ons te bang om toilet toe te gaan en het wydsbeen deur die gang geloop. Ek wou nooit alleen gaan, want nes ek die donker tog terug na die sitkamer aanpak, spring my sussie om 'n hoekie en brom my pa 'n waarskuwing vanuit hul kamer.  Sy kon haar giggel nie bedwing nie.

Die kombuistafel was kollosaal, nes enige iets maar is wanneer jy klein is. Menigde motorenjins was daar aanmekaar gepraat en die familie is haarfyn beskinder. As jy lank genoeg sit, sou Ouma die middagete toebroodjies en kouevleis van voor af voorsit.

'n Stukkie son het die naaldwerkkamer se mat in die laatmiddag verwarm en die plante in die voorhuis het al die vertrekke met muwwe varinggeur geblom. Die tuin was vol dwergies en feëtjies, en paaseiers van die vorige jaar se mislukte soektog. Daar was leeubekkies en varkore op al die sonnige plekke. Liefde het op die tafel rondgetrippel met haar bal in haar mond en in die hoek van die agterplaas het ek 'n ou skatkissleutel ontdek wat geen deur kon oopsluit nie.

Kosbare herinneringe wat my neusgate vul, vae beelde wat in my glasoë terugspeel. My mense se geur wat deur my are bloei. 'n Tyd wat my ontgaan het, mense wat my verlaat het. 'n Sopnat soen en stywe druk waarna my kinderlyf verlang. Daar was altyd tyd vir nóg 'n grap, nóg 'n lewensles.

Sy ewige jeug en kindwees sal my nog lank laat verlang na myne, my kindwees waarvan my oupa 'n goot deel was. Na ‘n jaar is dit my hart wat die meeste moet swig onder die wete dat die tyd vir ons almal aanbeweeg en nie wil stilstaan nie.  'n Ewigheid lank wil ek die kinderlike herinneringe van hóm, in my hart bêre.

 

“As die tyd net kon stilstaan…”



Liefde en groete vir Oupie.
“Jammer ek kan nog nie groet nie.”




Opgedra aan:  Johann Georg Meijer
Geleef en gelief:  25 Desember 1936 - 10 Mei 2012

Dinsdag 31 Januarie 2012

Ewige hartseer

Rus In Vrede

Vir Karel-Jan


Vandag verbly die engele hulle in my pyn
en verjeug hul oor die koms van my hart
in hul domein.

Vandag laat ek drome en wense vaar
sodat my gedagtes kans kry
om lewe te besef.

Vandag hang my hare los in my gesig
en trek jy jou vingers daar deur -
vuil, gevlekte vingers.

Vandag staan ek in jou kamerdeur
en neurie jou stram gesig
tot bedaring.

Vandag leef ek nie meer deur jou,
ontgaan my glimlag jou,
verval ek in soete verlange.

Vandag speel daar nie kinders
voor huis nie en
is die strate leeg.

Vandag seël ek die vensters van my hart
en sit 'n briefie op jou bed:
Jy was my beste deel.

Vannag maak ek my oe toe
en sus my laaste gedagtes
in jou soete, sagte asem.

Jy is nie meer hier nie...

Yolandi du Plessis
(Opgedra aan alle ma's wat al 'n kind aan die ewige gegee het)

Vrydag 02 September 2011

'n Ewige wandelpad

Soveel mense vind hulself daagliks op 'n besonderse wandelpad en soos ek, skrik hulle dalk wakker, stop en bevraagteken die aanwysings langs hierdie pad.  Wat doen ek hier?  Waar is hier?  Waarheen is ek op pad?  Hoekom gaan ek nou weer soontoe? 

My wandelpaadjie het my reguit na sekondêre onderrig gebring en die padaanwysings hier, is maar bitter onduidelik!  'n Onderwyser se pligte is lankal nie meer net opvoedkundig van aard nie.  Baie van ons is die enigste gesagsfiguur, tuistesimbool of drukkie geëer wat hierdie kinders daagliks mee in aanraking kom.  Die onderwyser, hetsy primêr of sekondêr van aard, het die ma en pa van talle wesies geword.  Eintlik baie ontstellend as mens so daaraan dink...

Tog wandel mens langs jou paadjie, bewonder die skoonheid van die rivierstroompie, luister na die sang van die voëltjies en wens jou grasperk by die huis was so groen.  Dan sien jy miskien die papiere en plastiek tussen die bossies inwaai, die leë bottels op die water dryf en 'n voëltjie wat probeer losspartel uit 'n kraaines.  Almal se wandelspaadjie sal immers objekte van versuuring bevat.  Iets wat sleg op die oog val en 'n bitter smaak in jou mond agterlaat. 

Ek bevraagteken daagliks my wandelpad.  Ek wonder oor die papiere en plastiek langs in die gras en probeer so ver moontlik skoonmaak.  Ek maan mens en dier om nie die water te drink nie, maar eie wil is 'n moeilike wandelsmaat.  Die onplesierigste sig op my wandelpad, is daardie voëltjie wat in die kraaines vasgevang is.  Sommige kan mens lossny en vrylaat, maar ander is so gekoek dat daar geen uitkom kans is nie.  Dis die wete dat ek daardie voëltjie agterlaat, wat my wese verniel.  Die wete dat soveel onderwysers soveel kinders agterlaat om hul eie gevegte te bemeester, wat ons wandelpaadjies om dompel.  Soveel kere is dit bloot omstandighede wat daartoe bydra dat hierdie kinders nie loskom nie, ander kere is hul bloot verslaan. 

Ek het onlangs my wandelpad aanvaar, net so, met al die afdraaipaadjies, bottels, plastiek en papiere.  Ek probeer nog die voëltjies losmaak ja, sommiges moet weer leer om te vlieg.  Daar's geen tydsbepaling aan my wandelpas en die eindbestemming is 'n gegewe. 

Wat 'n pragtige wandelpad... Wat 'n pragtige voorreg om 'n wandelspad in 'n kinderhart oop te trap... Wat 'n pragtige wandelpad met twee rye spore en die wete dat die gemors langs die pad, nie die eindbestemming sal benadeel nie...

Vrydag 01 Julie 2011

Ewige leesstof

Nee, ek is nie regtig 'n leser nie. Inteendeel, dis sekerlik die laaste sinvolle aktiwiteit waaraan ek my aandag sal afstaan as ek tot die uiterste alle ander aktiwiteite voltooi het.

Meer onlangs het ek met twee boek wurm vriende gesels en myself "verluister" aan hul kundigheid.  Wat 'n soektog is dit nie toe om vas te stel na watter tipe boeke my aandag sou trek nie.

Ek besef egter toe 'n interessante waarheid. Ek lees tog!  Ons elkeen lees op 'n daaglikse basis 'n magdom boeke en dis juis die interessantes, die by wie ons aanklank vind, wat ons aandag die meeste geniet.

Ek lees tans "Wees die beste jy" deur Jason de Kock.  'n Meesterstuk wat handel oor die soeke na kennis, verkryging van lewensvaardighede, bemeestering van menseverhoudings en waar God in hierdie globale prentjie pas.  Hierdie is verseker een van die boeke met die meeste leeswerk, maar 'n definitiewe topverkoper.  "Ek, 'n enkel ma" deur Lucinda du Plooy, is 'n pragtige verhaal van 'n jong vrou wie se siek dogtertjie, na twee hartoperasies, 'n lewende wonderwerkie geword het.  Sy vertel 'n hart-en-oog storie en mens kan nie anders as om opnuut dankbaar oor die lewe te wees nie.

"Ons gaan trou" is nog 'n lekker leesgenot, geskryf deur Derek Harwood en Colette Reyneke.  Die opwinding van voorbereiding vir die groot dag, afwagting en vooruitsigte, sorg vir prettige leesplesier.  Die boek is lank nognie klaar nie, maar ek voorspel 'n definitiewe gelukkige einde.

Die boek "Hoe om die beste Ouma en Oupa te wees" is 'n splinternuwe uitgawe deur Debbie en Johann Meijer.  In hierdie verhaal bou hul voort op die sukses van die opbrengs van hul kinders. Al is dit 'n nuwe ervaring, kwyt hulle hul besonders goed van hul taak.

In "Ek reg vir ma wees" is die skrywer, Karin de Beer, besig om die Mamma in haar, aan te wakker vir daardie groot dag.  Haar boek verklap 'n liefde vir die kind wat sy nognie het nie en skep opgewondenheid en afwagting.  "Alle vrouens is dieselfde" deur Johann Meijer Jnr, plaas die klem op die vlaters van die vrou en die opwinding van die jongmenslewe.

Die boek "Nader aan die goue jare" vertel die verhaal van twee mense wat hul pragtige huwelik met vriende en familie deel.  Die skrywers, Neil en Annetjie du Plessis, vertolk hul naderende goue jare met gemak en inspireer baie met hul diensbare verhouding.

Een van my gunsteling boeke tans, is "Dis vir ons" deur Divan du Plessis. 'n Jong skrywer wat sy ambisieuse kant openbaar en opwindende toekomsdrome nastreef.  Sy soeke na onafhanklikheid in die werkplek, skatte en vriendskap neem sy lesers op 'n onverwagse tog waarvan die uitkoms aansporend sal wees.

My boek skryf ek nog, en nes elkeen van hierdie, hoop ek ook vir 'n topverkoper.

Lees ek?  O ja!  Leer ek?  O ja!  Is hierdie boeke 'n inspirasie tot my daaglikse bestaan?  Verseker!  Elke uitgawe dra by tot ewige leesstof.

Opgedra aan familie en vriende wat my laat lees.

Donderdag 30 Junie 2011

Ewige verlange

Ek vind my gedagtes dwaal wanneer ek opkyk na die bloue lug en 'n swerm voëls my aandag geniet.  Dis dan wanneer daar 'n verlange in my wakker word en ek my oupa sien glimlag. 

Gert Cloete was 'n man met die wêreld se geduld en rustigheid.  Sy middagslapies het gepaart gegaan met "balke saag" en sy sigaret was altyd naby, steeds brandend. Hy het 'n liefde vir diere gehad en dit kon mens duidelik agterkom wanneer jy sy agtererf betree.  Dit was elke sprinkaan se droom.  Oupa het ons selfs in die duiwehokke toegelaat en as die eende moes kos kry, mag ons die broodjie gebreek het.  Die hasies het op 'n tyd hul gange onder die hokke gegrawe, natuurlik met die doel om die vliegduiwe te help ontsnap, maar is mettertyd met ganse en makoue vervang. Dit was die lekkerste agtererf ooit!

My sussie het ook in hierdie gevoel gedeel, tot die dag wat Oupa die hoenders geslag het.  Daardie dag het sy haar ewige vrees vir voëls ontwikkel, so erg dat ek en boeta selfs tot onlangs die duiwe uit die huis moes jaag sodat sy uit haar kamer kon kom.  Die afkop haan het haar al om die wasgoedpaal gejaag en sy het geklou vir haar lewe en boonop geskree soos 'n maer vark (maar daaroor het ek innige simpatie gehad). Al was dit die snaaksste ding wat ek ooit in my lewe aanskou het, het dit haar 'n vrees besorg wat vandag nog met haar is.

Buiten die feit dat Oupa se agterdeur altyd oop was, was dit dieselfde geval met sy hart.  So geliefd en so opreg, met sy kam in sy kous en 'n sigaret in sy mond.  Mens kon hom deur 'n ring trek en net vir hom lief raak.

Sewe jaar later en die voëls sing, hulle vlieg en fladder, hulle wek 'n verlange wat lank nog nie gestil kan word nie. 'n Ewige verlange na 'n man wat my hart se wandelpaadjie voos stap, met net sy reuk en glimlag wat behoue bly.

Ter erkenning en herdenking aan
Oupa Gert.