Gert Cloete was 'n man met die wêreld se geduld en rustigheid. Sy middagslapies het gepaart gegaan met "balke saag" en sy sigaret was altyd naby, steeds brandend. Hy het 'n liefde vir diere gehad en dit kon mens duidelik agterkom wanneer jy sy agtererf betree. Dit was elke sprinkaan se droom. Oupa het ons selfs in die duiwehokke toegelaat en as die eende moes kos kry, mag ons die broodjie gebreek het. Die hasies het op 'n tyd hul gange onder die hokke gegrawe, natuurlik met die doel om die vliegduiwe te help ontsnap, maar is mettertyd met ganse en makoue vervang. Dit was die lekkerste agtererf ooit!
My sussie het ook in hierdie gevoel gedeel, tot die dag wat Oupa die hoenders geslag het. Daardie dag het sy haar ewige vrees vir voëls ontwikkel, so erg dat ek en boeta selfs tot onlangs die duiwe uit die huis moes jaag sodat sy uit haar kamer kon kom. Die afkop haan het haar al om die wasgoedpaal gejaag en sy het geklou vir haar lewe en boonop geskree soos 'n maer vark (maar daaroor het ek innige simpatie gehad). Al was dit die snaaksste ding wat ek ooit in my lewe aanskou het, het dit haar 'n vrees besorg wat vandag nog met haar is.
Buiten die feit dat Oupa se agterdeur altyd oop was, was dit dieselfde geval met sy hart. So geliefd en so opreg, met sy kam in sy kous en 'n sigaret in sy mond. Mens kon hom deur 'n ring trek en net vir hom lief raak.
Sewe jaar later en die voëls sing, hulle vlieg en fladder, hulle wek 'n verlange wat lank nog nie gestil kan word nie. 'n Ewige verlange na 'n man wat my hart se wandelpaadjie voos stap, met net sy reuk en glimlag wat behoue bly.
Ter erkenning en herdenking aan
Oupa Gert.
Oupa Gert.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking