Sondag 22 Mei 2011

Ewige dankbaarheid

Die liefde wat 'n ma vir haar ongebore kind het, is onmeetbaar. Self kan ek nog nie hiervan getuig nie maar in die sagte kyke van my vriendinne se mamma-oë, kan ek hierdie liefde raaksien.

Nou, na soveel jare staan ek immers aan die ander kant en kan ek van iets getuig wat in my tienerdae taboe sou wees. Ek getuig oor die liefde vir daardie twee persone wat jou in die lewe gebring en groot gemaak het. Te min kere erken ons kinders, watter besonderse rol ons ouers in ons lewens speel.

Dit moet 'n nuwe era geniet want die lewe is kosbaar en te kort om nie vir hierdie mense die waardering en dankbaarheid te gee wat hulle toekom nie. Meer onlangs het die mense in my gemeenskap, hierdie subtiele boodskap op 'n bittere teleurstellende wyse ontvang. Waarom die wêreld se lesse so onverdraagsaam oorgedra moet word, sal die Here ons eendag kan wysig, maar tot dan is dit hierdie lesse wat ons klei fondasies skud en vervorm.

Elke ouer bid die beste vir sy / haar kind toe, maar die tyding van Okker se rugbybesering het my hierdie "beste" laat bevraagteken. Seuns sal doen soos seuns sal wil, en sport vloei in hul are, maar beserings is onvermybaar en Okker le tans in Unitas Hospitaal se waakeenheid.

Sprankelende seun met sterk leierseienskappe en 'n liefde vir dit wat hy in die lewe nastreef. Hy veg tans 'n stryd saam die Here om beweging van sy kosbare ledemate te behou. Glo ons almal dat hy sal herstel? O ja! God het reeds sy kragte geopenbaar en hom gevoel terug gegee. Okker staar 'n lang en moeilike herstelproses in die oe, maar alleen doen hy dit nie. God het hom toegerus met twee ouers wat hom al die pad ondersteun.

Die hedendaagse samelewing is siek en ons kinders word tot die uiterste hierdeur geraak. Soveel kinders se ouers is geskei, dalk gereeld uitstedelik, onbetrokke, afbrekend of afgestorwe. Onderwysers tree meer as gereeld in as die plaasvervanger ouer en dit breek my hart om te sien wat in sommige kinders se harte geskryf staan. 'n Gemeenskap, 'n nuwe generasie sonder behoorlike leiding, moet van 'n gebroke wêreld probeer sin maak.

Daarom 'n ewige dankbaarheid...vir my ouers! 'n Dankie vir elke geleentheid wat ons gegun was, elke minuut se aandag en elke sent wat aan die einde van die maand omgedraai moes word. 'n Dankie vir hulle gesondheid en dat hulle meer onlangs hulle kleinkinders met hierdie selfde gawes kan bederf. 'n Dankie vir elke verdiende of onverdiende loesing en ma se gepaai as pa te kwaai was. 'n Dankie vir elke glimlag en skuins arm drukkie en die voorbeeld van 'n lewende God wat sy kinders op pas en seën.

'n Dankbare ek, vir mense wat my mens wees gevorm en bewaar het, wat meer male as wat ek sal kan onthou, hulself opgegee vir die geluk en blydskap van hulle kinders. En nou, na al hierdie jare, uit pure dankbaarheid, die hoop dat hulle nog lank sal deel uitmaak van hul groeiende gesin sodat my kinders 'n stukkie van hulle die toekoms mee kan seën.

'n Ewige dankbare ek, vir my ouers.

Opgedra aan Debbie en Johann Meijer en meer onlangse skoonouers, Annetjie en Neil du Plessis.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking