Saterdag 30 April 2011

My ewige sielsgenoot.

Hy is die laaste persoon wat my gedagtes vul as ek saans aan die slaap raak en die eerste wat ek sien as ek ontwaak die volgende oggend. Hy's my geskenk van God af, die man wat my wese ken en aanvaar.

Hy is 'n ambisieuse man. Ek't altyd geweet dat iets hom moet dryf en dis juis hierdie strewe na vervulling wat my fassineer. 'n Gebore leier met 'n sterk en sagte hart, Divan.

Soos die noodlot dit sou wou is daar altyd aardse dinge wat ons menswees druis en ons op plekke skud waar net Een ons regop kan hou. My man moes hierdie week 'n belangrike kontrak gefinansier kry en dis waar die toets om my geloof ingetree het. Ek't altyd geweet van God, ek't altyd geleer van God, maar toe Divan 6 jaar gelede in my hart instap, het ek besef dat ek ook meer as net 'n gedagte vir God is. Hy't aan my 'n man, 'n Godsman gegee wat my verhouding met Hom, sou laat blom.

Divan se kontrak was 'n ou GROTE en die kanse dat hierdie kliënt sou finansiering kry, was maar yl. Op 'n persoonlike vlak het ek maar altyd net sit en hoop dat sy kontrakte aanvaar word maar nooit regtig dit nodig gevind om die dringendheid in God se hande te laat nie. Ek het Donderdag aand presies dit gedoen, ek het vir Hom - aan wie alles behoort - die groot ASB vraag gevra. In my gedagtes is dit 'n kwessie van die mense se geluk, bid mens nie maar eintlik dat ander gelukkig moet wees nie? Ek bid graag vir geluk, my man wat gelukkig moet wees met dit waarvoor hy elke oggend vroeg opstaan en sy gesin verlaat. God is geluk se ewe.

Divan het die kontrak gefinansier gekry en ek is in die bek geruk oor my ongeloof. Ek is opnuut bewus gemaak van God se krag as mens net glo. So 'n klein, ordinêre woordjie: glo.

My man glo soos ek graag wil en daarom glo ek, God het hom geskenk vir my gegee. Iemand in wie ek God elke dag kan ervaar en by wie ek ewigheidslesse ontvang.

My ewigheidsman, my sielsgenoot.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking