Woensdag 13 April 2011

Ewige vriendin

Ek het 'n vriendin...

Nee, sy's nie te ver nie, sy kan nie wees nie want vir haar hou ek altyd naby aan my hart. Dis mos waar vriende hoort, in die uithoeke van ons gedagtes en die punte van ons tonge.

My vriendin is 'n inspirasie vir soveel mense wat haar daaglikse roete mag kruis. Menigde male het ek my hart voor haar oopgekerf en keer op keer kon sy die bloeding stuit met 'n enkele frase: "My liewe maat, het dit waarmee ons onsself stenig, dan ewigheidswaarde?".

Dis 'n vraag wat my sal bybly tot die einde van tyd. God se dan self dat ons nie mag kommer oor die dag van more, want Hy is reeds daar. Hy is immers ons verlede, hede, toekoms so waarom al die bloedsweet, skande, skaamte en ongeluk?

Wat het ewigheidswaarde? Woorde... Ek glo dit. Woorde het onskatbare waarde. Lank na die afsterwe van die bekendes, hou hul geliefdes steeds vas aan daardie kosbare verbaling wat van hulle legendes maak. Daarom die kleuter wat sy huishouding skandelik deel met die kleuterskooljuffrou (wat immers nou redes vir sy gedrag verstaan) en die tiener, ai die tiener wat krummel onder die druk van die samelewing omdat sy ouer net nie daardie bemoedigende woord die lug kan instuur nie. Het dit ewigheidswaarde?

Daarom ook kry jy mense wat die onmoontlike bemagtig, die siekes genees en haat wegpraat. Hulle het die mag van 'n ewigheidselement besef en sal 'n verskil in 'n seer wêreld maak.

Ag liewe woorde wat diep in my binneste 'n vesting ingebrand het, bewaar my ewigheidswapen en laat ander nie struikel en swoeg onder my tong nie. Want aan die einde van die lewe wag die enigheid en sy Koning, glimlaggend. Hy kan nie wag om 'n ewige gesprek van waarde, met my te voer nie.


Ter erkenning van vriendskap!
(Alma Germishuys)

13 April 2011

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking